
=====================================================================
Afrikaanssprekendes, word onmisbaar! (AV 5:2)
=====================================================================

Inhoudsoorsig

Afrikaanssprekendes, word onmisbaar!

Frederik van Zyl Slabbert   vra: Kan Afrikaanssprekendes die inherente kulturele bronne ontwikkel om 'n betekenisvolle rol in die nuwe 
bestel te speel? Di vraag, s hy, gaan binne die volgende dekade beantwoord word.

IN die bi-polre wreld van die koue oorlog is aanvaar dat faktore soos etnisiteit, ras of kulturele minderhede sou verdwyn indien 
kommunisme of kapitalisme sou oorwin.

Maar sedert middel 1989 het die wreld 'n ontploffing van etniese nasionalisme beleef, veral in Midde- en Oos-Europa, waar kommunisme en 
kapitalisme hul kwaaiste stryd gevoer het. Veral die volgende internasionale tendense wat deur die val van die Berlynse muur ontketen is, 
het direkte konsekwensies vir etniese minderhede.

* Die eerste is die toename in globalisering: die groter beweeglikheid van kapitaal, inligting, tegnologie en vaardighede.
* Die tweede is die vermindering van die outonomie en onafhanklikheid van die nasie-staat as 'n entiteit in internasionale betrekkinge.
* Die derde is die dominansie van die liberale demokrasie as die gewenste regeringsvorm in die internasionale politiek. Die besondere 
kenmerk van hierdie staatsregtelike bestel is konstitusionele regering, die skeiding van magte en die beskerming van individuele regte in 
'n handves wat aan die reg getoets kan word. So 'n demokrasie skep egaliterende verwagtings en plaas 'n besonder sterk verpligting op die 
staat om te presteer teenoor die regte en verwagtings van die gewone burger.
* Die vierde is die toenemende prominensie en belangrikheid van die vryemarkstelsel. Dit is by uitstek 'n mededingende marksisteem en die 
basiese gevolg van die suksesvolle werking daarvan is die ongelykheid van resultate. Waar 'n liberale demokrasie, wat gelykheid van 
resultate belowe, gekombineer word met 'n vryemarkstelsel, wat ongelykheid van prestasie bewerkstellig, kan 'n hele reeks teenstrydighede 
ontwikkel, veral in 'n samelewing wat ekonomies nog nie ver ontwikkel het nie, en waar daar kulturele en etniese minderhede is tussen wie 
daar groot maatskaplike en ekonomiese ongelykheid bestaan.
* Die vyfde neiging is toenemende bevolkingsmigrasie en verskuiwings binne en tussen samelewings.

Wat is die algemene gevolge van die internasionale tendense van globalisering, vermindering van die selfstandigheid van die nasiestaat, die 
dominansie van 'n liberale demokrasie, die belangrikheid van 'n vrye en mededingende markekonomie en bevolkingsverskuiwings dan spesifiek 
vir kulturele en etniese minderhede?

* 'n Groter bewustheid van ekonomiese ontbering tussen groepe in dieselfde staatsbestel;
* 'n verskerpte mededinging om regte en dienste vanuit staatsbesteding;
* 'n groter gevoel van diskriminasie en vervolging teen minderhede;
* 'n toenemende betrokkenheid by die kwessie van kulturele identiteit, met ander woorde wie is, en wie is nie, deel van die minderheid nie;
* 'n bevraagtekening van die selfbeskerming waarop minderhede binne die struktuur van 'n liberale demokrasie geregtig is, met ander woorde 
die stryd tussen individuele en groepsregte;
* 'n besorgdheid oor die kollektiewe ekonomiese en politieke beskerming van die minderheid;
* verwarring en twyfel oor die spanning tussen lojaliteit teenoor die waardes van die minderheid, en lojaliteit teenoor die staat, oftewel 
spanning tussen nasiebou en etnisiteit;
* die probleem van permanent uitgeslote minderhede in 'n politieke proses wat deelname belowe;
* spanning oor basiese gemeenskapswaardes soos moedertaalonderrig en godsdiens.

Wat nuut is, is dat die hantering van hierdie probleme in 'n heeltemal nuwe konteks plaasvind, naamlik globalisering, demokrasie, vryemark 
en groter vryheid van beweging.

In die stryd tussen kommunisme en kapitalisme moes baie minderhede stry om oorlewing teen die doelbewuste vervolging en onderdrukking van 
die staat. In die nuwe internasionale konteks is dit amper asof die houding is: minderhede wat wil oorleef, is op hul eie inherente 
kollektiewe, ekonomiese, maatskaplike en kulturele bronne aangewese; die staat gaan hulle nie meer doelbewus uitwis of vervolg nie, maar as 
hulle wil voortbestaan, is dit hulle eie saak.

Wat is die implikasies van wat so pas ges is, vir Afrikaans en Afrikaners?

Dink maar aan die volgende:

* Toe sommige Afrikaanssprekendes die politieke mag in Suid- Afrika gemonopoliseer het, was daar 'n vasberade poging om 'n uitsluitlik 
politieke definisie aan Afrikanerskap te gee. Noudat daar 'n verlies aan politieke mag is, ontstaan nuwe vraagstellings oor die verhouding 
tussen politiek bewuste Afrikaanssprekendes en die Afrikaanse kultuur: wie is 'n Afrikaner? Het dit 'n inklusiewe of eksklusiewe betekenis?
* As dit inklusief is, hoe word Afrikaanssprekendes gemobiliseer om hulle as 'n minderheid in 'n liberale demokratiese opset te laat geld?
* Moet daar noodwendig 'n ooreenkoms tussen politieke en kulturele lidmaatskap wees?
* Hoe versoen mens nasiebou met selfbeskikking van 'n kulturele minderheid?
* Het die staat werklik die vermo om gelykberegting te laat geskied aan 'n veelvuldigheid van kulturele minderhede?
* Hoe verwerk Afrikaners, wat deel was van 'n dominante minderheid, die verlies aan mag en status, en hulle huidige magtelose situasie?
* Kan die nuwe regeerders waag om minderheidsbelange te laat gedy ten koste van oorkoepelende waardes van nasionale solidariteit?
* En as die oorkoepelende waardes op 'n inklusiewe, onverdraagsame manier gedefinieer word wat die regte van minderhede misken, hoe reageer 
sulke minderhede?
* Wat is die impak van globalisering op kulturele selfidentiteit en hoeveel Afrikaanssprekendes word daardeur geraak?
* Hoeveel inklusiewe, vrywillige organisasies bestaan in die nuwe bestel vir Afrikaanssprekendes waar hulle sake van gemeenskaplike belang 
kan bevorder?

Dit is nie moeilik om hierdie en baie ander vrae te stel wat alle minderhede in die nuwe Suid-Afrika en elders in die wreld ten nouste 
raak nie. Watter riglyne kan 'n mens voorstel, spesifiek vir Afrikaanssprekendes in die nuwe Suid-Afrika, om hierdie vrae te beantwoord?

Sonder om voorbarig te wees, lyk dit my ten minste die volgende kwessies sal aandag moet geniet:

* Hoe kan Afrikaanssprekendes help om oorkoepelende waardes van inklusiewe verdraagsaamheid te bevorder? Met ander woorde: hoe identifiseer 
hulle met die nuwe bestel deur gemeenskaplike belange met minderheidsbelange te versoen, dit wil s waardes wat eenheid in verskeidenheid, 
en verskeidenheid in eenheid bevorder? Ek glo dit gaan een van die grootste uitdagings vir die liberale demokrasie in die 20ste eeu wees.

Hoekom sal Suid-Arika en spesifiek Afrikaners nie hier die pas aangee nie? Hoe kan Afrikaanssprekendes hulle toenemend professioneel, 
tegnies en ekonomies onmisbaar maak in die nuwe bestel? Veral op s 'n manier dat hulle die algemene welsyn en hulle eie selfstandigheid as 
minderheid versterk.

Hoe kan Afrikaanssprekendes leer om al hoe meer onafhanklik van die staat te dink en te leef? Hulle moet hulle eie kulturele, ekonomiese en 
maatskaplike bronne ontgin en gebruik om hulle eie selfstandigheid en selfbeskikking te bevorder. Hoe meer hulle daarin slaag, hoe minder 
is hulle 'n las vir 'n staat wat sukkel met probleme van ekonomiese onderontwikkeling, en hoe groter is die rol wat hulle kan help speel om 
daardie probleme die hoof te bied.

Die taal is die belangrikste gemene deler. Dit is absoluut noodsaaklik dat inklusiewe, vrywillige organisasies geskep en versterk word om 
gemeenskaplike taalbelange te bevorder, veral op onderwysgebied. Met inklusief word bedoel wit, bruin, swart, Christen en Moslem 
Afrikaanssprekendes. As Afrikaanssprekendes nie eenheid in verskeidenheid kan bewerkstellig nie, watter kans is daar dat hulle dieselfde 
rol in die brer samelewing kan speel?

En dis belangrik dat Afrikanerskap nie weer verskraal moet word tot lidmaatskap van een politieke party of verbintenis tot 'n bepaalde 
ideologiese standpunt nie. Op di manier is Afrikaners 'n verskeidenheid kulturele, intellektuele en ekonomiese talent ontneem. Daar is 
miskien niks ergers wat met 'n kulturele minderheid kan gebeur as dat sy kulturele, professionele en intellektuele leierskap van hom 
vervreem raak nie.

Ek het probeer aandui dat daar nuwe internasionale neigings losgelaat is met die verdwyning van die koue oorlog; dat hulle sowel 
geleenthede as probleme vir minderhede skep; dat minderhede baie meer vryheid en beweeglikheid het om hierdie probleme die hoof te bied; 
dat die verdwyning van die koue oorlog saamgeval het met sommige Afrikaanssprekendes se verlies aan politieke dominansie; dat dit die hele 
kwessie van Afrikanerskap weer oopgegooi het vir herdefiniring: dat 'n inklusiewe definisie van Afrikaanswees die potensiaal het om die 
taal en di wat hom praat, op 'n konstruktiewe manier te laat oorleef en groei in die nuwe bestel.

Maar dit gaan moeilik wees.

Terwyl die Afrikaner met sy eie selfondersoek besig is, bevind hy hom in 'n ontplooiende politieke bestel waar die nuwe bewindhebbers 
worstel met die probleme van "nasiebou" en die staanmaak van hul en Suid-Afrika se outonomie as nasiestaat in 'n globaliserende wreld.

Die vraag wat binne die volgende dekade beantwoord gaan word, is of Afrikaanssprekendes die inherente kulturele bronne kan ontwikkel om 'n 
betekenisvolle rol in hierdie nuwe bestel te speel. Dr. Frederik van Zyl Slabbert   is 'n direkteur van die Instituut vir 'n Demokratiese 
Alternatief vir SA   (Idasa). Hierdie artikel is 'n uittreksel uit 'n onlangse voorlesing deur hom.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av521.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- April 1998 /// Afrikaanssprekendes, word onmisbaar! (AV 5:2) /// Ywer 
uit onverwagte oord (AV 5:2) /// Produktiewe aksies moet daaruit voortkom (AV 5:2) /// Leeskring-inspirasie (AV 5:2) /// Een bre 
Afrikaanse front (AV 5:2) /// Die antwoord op: Hoe leer ek Afrikaans? (AV 5:2) /// Op die stoep gaan hulle skater van plesier (AV 5:2) /// 
Afrikaans: 'n nuttige stuk gereedskap (AV 5:2) /// Afrikaans vir die Afrikane? (AV 5:2) /// Afrikaanse bewegings moet besin oor oogmerke 
(AV 5:2) /// 'n Woordlint van land tot land (AV 5:2) /// Afrikaans gryp uitdagings (AV 5:2) /// Hoe stewig is die handevat? (AV 5:2) /// 'n 
Gelukkige huis lok vele vriende (AV 5:2) /// In die ban van Karoo-Afrikaans (AV 5:2) /// Die wel en wee van 'n politieke tolk (AV 5:2) /// 
'n Reis van selfontdekking (AV 5:2) /// Nederlands wil Kaaps raakvat (AV 5:2) /// Taalvriendskap is nou moontlik (AV 5:2) /// 'n Briljante 
seun, Meyer (AV 5:2) /// Sonde met die Cravense bure (AV 5:2) /// PALJAS, paljas is die as nou af? (AV 5:2) /// Die smeerstorie (AV 5:2) 
///

